Op dié blad plaas ek my nuutste gedigte en stories.

Geniet dit en laat my weet wat jy daarvan dink.

Lees eers gou my BLOG

 

Grootword

daar sit 'n kind voor my
en binne-in die kind
is daar 'n ding
wat nou eksamen skryf

die ding dink verwoed
en skryf ernstig en dringend
allerhande goeters neer

eintlik sit dit mooi stil
elke ding het mos sy plek
binne-in elke kind

maar pasop - daai ding wil spring
en sal net-nou weer loskom
en die kind laat lag en speel
terg en treiter

eet en droom
draal en drentel
tv kyk, foonknoppies druk
gesels, weer eet, dalk bad

en dan later, uiteindelik
word 'n ding moeg
en sit dit
die kind af

...

af van lag en speel
af van terg en treiter
af van droom

maar nou, hier voor my
kyk die ding verveeld vir my
deur die kind se helderblink oë
en glimlag my skielik

amper uit my vel uit!

(24 Maart 2010)

 

uitgekryt

daar is min stof wat eelt soos kryt
tot nadenke en jeukende, sweterige vingers
om ‘n koppie flou tee in die personeelkamer
vol luide mor tussen sagte slukkies

ek is moeg
en ek wil weg
van dié sloof
vir só min

die pen oor my kop
spuit sy inkreën deur my blaaie
maar meng met die krytstof en word
droë dakverf op gekraakte karretjies-banke

die kinders is bored en uitgesuiker
oorlams, ongemaklik, dromend
let nie op nie – wil heeltyd gaan piepie
lus vir nog ‘n toebroodjie

ek is moeg na die dag
dit eindig half
en die blaaie lê ongemerk
daar op my les se naar

(18 Maart 2010)

 

 

 

 

© 2010 lourensb.co.za. Alle regte voorbehou.