|











 |
|
Hier is twee verhale uit my bundel:
Klaryna
Klaryna sit haar groot handsak en vashou op die laataand-bus. Dis koud. Sy
is oppad na Séan toe. ‘n Bus is ‘n wonderlike voertuig. Dit kan ‘n
heerlike sussende en strelende ervaring wees om die bus te neem, maar daar
is drie voorwaardes: jy moet glad nie haastig wees nie, dit moet aand wees
en dit moet koud wees. Sodat jy vinger-patrone in die wasem-kolle kan
teken.
Klaryna is ‘n pragtige meisie. Haar naam
word mooier as mens haar sien. Maar sy is een van daardie rare dametjies
wat jy sommer kan sien mooi is van binne en buite. En die een mooi maak
die ander mooier. (Terwyl ek haar beskryf, teken sy ‘n hart met ‘n pyltjie
deur teen die venster.) Sy sien baie daarna uit om Séan vanaand te sien.
Dit kan werklik ‘n groot aand vir hulle albei word; ‘n maak-of-breek aand.
Jy het haar al gesien. Sy’s die die tipe meisie wat ‘n man se asem wegneem
as sy by hom verbystap. Sy’t rooi wange, baie blonde hare wat lastig oor
haar sagte voorkop bly val en na haar groot grou oë wys. Sy’t ‘n effense
wipneus wat, as jy jou verbeelding gebruik, ‘n paar sexy sproete op het.
Dan is daar ook ‘n uiters soenbare mondjie en ‘n ongewone ken wat die
perfekte gesiggie afrond. Sy is effens naïef, maar nie onnosel nie;
sensitief, maar sy vat nie nonsens nie. En sy pas net mooi onder ‘n
langerige man se ken in. ‘n Man soos Séan.
Terwyl die bus so skommel oor die slegte paaie en om die baie draaie, voel
sy sleg. Iets pla haar, maar sy kan nie regtig sê wat dit is nie. Dis ‘n
snaakse, ongemaklike ding wat haar al dae pla. Gaan vanaand die eerste
keer wees? Is sy reg daarvoor? Hy is so ‘n wonderlike, saggeaarde man. Sal
hy dit wat sy vir hom in gedagte het kan hanteer? Sy kan hierdie gevoel
nie keer nie, maar sy kan haarself ook nie keer om na hom toe te gaan nie.
Sy voel soos enige mens voel as jy ‘n groot nood het en jy die telefoon
hoor lui.
Séan sit en dan staan hy weer. Loop kombuis toe, kyk dat die wyn mooi
asemhaal, skuif die eetgoedjies reg en dan gaan sit hy weer. Staan skielik
weer op, sit ‘n ander, “beter” CD op, gaan sit weer, wonder of hy die TV
moet aanlos, dalk met die klank af. Hy besluit nee. Dit kan die verkeerde
indruk skep. Die kerse? Hoe moet dit wees? Aan of dood? Hy sal maar liewer
wag totdat sy kom. Hy wil nie te gretig voorkom nie. Maar die
opgewondenheid loop by sy ore uit.
Hy voel simpel omdat hy só aangaan oor
hierdie afspraak. Dit is tog nie asof dit nou die eerste keer is wat hy ‘n
dame na sy woonstel nooi nie.
Hy bedaar skielik as hy aan Klaryna dink. En hoe fantasties sy is. Hy weet
nie hoe het hierdie geluk hom getref nie. Sy is regtig to die for. Maar
dan is sy defnitief sy soort meisie. Slim, mooi en oulik. Hy dink aan hoe,
as sy so diep in syne kyk, haar oë hom beroof, maar op ‘n lekker manier.
Hy dink aan hoe heerlik sy ruik, hoe goed sy proe as sy hom soen.
Alles is goed en gereed. Hy het selfs nuwe
kondome gekoop. ‘n Man kan deesdae nie te versigtig wees nie – jy weet
nooit wat kan gebeur nie! En wie weet, dalk is vanaand die aand waarvoor
hy gewag het. Sy helder-blou oë lag onder sy lang, bruin kuif uit.
Sy staan voor sy deur. Sy hou haar handsak weer styf vas, so al asof dit
iets in het waarmee sy nie die aand sou kon deursien nie. Daardie snaakse
gevoel kom weer in haar op, maar dié keer meng dit met opwinding,
afwagting. Sy is gereed. Sy klop.
“Hallo! Kom in, kom in!” Hy gee haar ‘n
stywe druk en voel hoe haar ferm borste teen hom druk. Hy kry dadelik ‘n
ereksie. Sy vierde vir die aand!
“Kom sit, gee jou jas. Sjoe, maar dis lekker koud nê?” Sy glimlag mooi en
groet vriendelik. Hy hoor hoe sy iets van sy woonstel se dekorasies sê
terwyl hy sy broek in die kombuis herorganiseer. Sy het nog nooit meer
verruklik gelyk nie.
Sy sidder ook van opwinding nou nadat hy haar teen hom vasgedruk het. Maar
sy ontspan wanneer sy agterkom hoe veilig sy voel.
“Alles gaan mooi uitwerk,” dink sy. “Ek was verniet bekommerd.”
“Rooiwyn?” “Ja dankie, dit sal lekker wees.” Sy ruik badwater en seep, die
geur van ‘n skoon man. Dan sien sy die kerse, die slaai. “Die pasta is
amper gaar, hoor. Is jy al honger?” Sy antwoord vriendelik, “Ja, maar ons
hoef nie dadelik te eet nie.” Sy dink aan sy gladde bruin vel en spiere
wat onder sy karamel-kleur trui skuil, die aand wat voorlê … Sy kan
eintlik nie glo hoe smeulend-aantreklik hy is nie. Sy drink nie eers
eintlik rooiwyn nie. Maar sy voel skielik wonderlik.
Sy sit haar handsak neer en drapeer haarself
so onaanmatigend soos kan kom op die bank. Soos hy nader beweeg met sy
groot glimlag sien sy hoe galant hy is, hoe sterk hy beweeg. Hy sit die
wyn neer en neem haar yskoue hande in sy warmes. Dan kyk hy diep in haar
oë: “Jy lyk so goed vanaand.” Sy bloos en glimlag skaam. Dit gaan
defnitief ‘n groot aand wees. Sy kan dit voel.
Dit is ‘n hele paar ure later. Altwee is uitasem na ‘n lang, uitgerekte
aand van passie. Hy glimlag vir haar en sy giggel stout. Sy trek die laken
oor haar klam borste en streel oor sy gladde borskas: “Wil jy rook?” Hy
glimlag tevrede terug en knik. Hy kan nie glo hoe ‘n totale sukses die
aand was nie. Hy kan nie glo dat sy so baie van hom hou nie. En dat hy so
goed oor haar voel nie. Hy kan nie wag vir die volgende keer nie.
Sy leun oor haar kant van die bed en strek
om die handsak te kry. Hy bewonder weer haar volmaakte rug, nou nat van
die sweet, en kry sommer lus om haar nou weer te gryp.
Sy haal ‘n lang, nuwe, skerp mes uit, draai terug na hom toe en druk dit
rustig, maar stewig tussen sy ribbes in.
Klaryna begin saggies neurie en kyk hoe Séan sy oë groot ooptrek en sy
mond wawyd ooprek. Daar kom geen klank uit nie. Sy verf 'n hartjie met 'n
pyltjie deur op sy bors met die bietjie bloed wat uitloop. Oomblikke later
sterf hy in haar arms. Sy streel deur sy hare en voel sy nog-warm kopvel.
Sy haal ‘n kleinerige dagga-zolletjie uit,
steek dit aan en rook dit op haar tyd. Sy dink aan die sukses van die
aand. Sy voel beter as wat sy ooit in haar ses-en-twintig jaar kan onthou!
Wat ‘n verligting moet dit nie vir haar wees
nie. Nie sleg vir ‘n eerste keer nie. Sy kan nie wag vir die volgende
geleentheid nie. Maar sy sal eers moet kyk – ‘n meisie kan deesdae nie te
versigtig wees as sy uitgaan in die aande nie.
Jy kan dié publikasie kan nou
bestel.
Oranje tjips
Hulle sien mekaar van vêr af aankom. Hy met sy duur cross-trainers en sy
met haar ou uitgetrapte têkkies. Haar opgedrade rok steek onder 'n nuwe
(maar te klein) pienk uniform uit.
Sy het nog sowat sewe kilometer om te stap voor sy by haar huis sal wees.
Sy is baie moeg en haar ou dik bene hou nie baie van dié gesukkel nie.
Sy’t die laaste taxi gemis. Maar haar oë blink tevrede, want in haar bra,
so tussen die enorme borste, sit 'n splinternuwe, kraak-vars
honderdrandnoot. Sy stink van sweet en min seep. Sy het vandag al die
meubels politoer gegee en opgevryf. Die matte sal maar moet wag tot
Maandag.
Op haar kop dra sy 'n massiewe plastieksak vol oranje kaaskrulle;
versigtig, sodat dit nie afwaai in die fris briesie nie. Die kleintjies
gaan vanaand baie bly wees om vir Ouma te sien!
Die drawwer se ligte broekie en draf-hempie het helder-blink neonstrepe op
en hy’t ‘n drafbelt met ‘n rooi flikkerliggie aan sodat die karre en
fietse hom kan sien. Hy proe die soet-sout sweet wat oor sy gesig, deur sy
lippe insypel. Die bitter smaak van sy duur naskeermiddel laat hom gril en
hy vee sy mond haastig af. Sy oë brand van die stof en rook wat van die
townships af aangewaai kom en hy swets as hy dink aan die mense wat die
lug so besoedel.
Hy is bly sy dag is verby en dat hy nog net so 'n kilo of wat oor het voor
hy 'n lekker lang stort kan gaan vat. En dan gaan hy heerlik voor die TV
sit en ontspan. Wat 'n wonderlike vooruitsig. Hy is eintlik baie trots op
homself – sy oefenprogram is mooi op skedule.
Sy asem jaag huh-huh-hee-hee deur sy mond, op die ritme van sy voetval.
Haar asem vloei onwillekeurig in en uit haar blink, plat neus. Haar mond
is effens oop en sy neurie 'n rustige deuntjie:
Mmm-mm-ha-naa-ni-laa-hô-nnn-mmm ...
Soos hulle al hoe nader aan mekaar beweeg, raak altwee effens meer bewus
van die ander. Hy sien haar bont kopdoek onder die groot pak tjips
uitsteek. Sy kan nie help om sy maer skouertjies, wat hoog aan sy lang lyf
sit, op te merk nie.
Skielik dink sy aan haar seun. Hy kon nooit gaan leer nie. Nie soos
hierdie man wat aangedraf kom nie. Sy kan sommer sien dié mannetjie het
geld. Hoekom anders sal hy dan so 'n dik goue ketting om sy nek dra? En hy
bly tien-teen-een in 'n groot huis hier iewers. 'n Mooi huis wat sy maar
net van kan droom … en skoonmaak.
Die drawwer wonder oor die ironie: hy draf vir ontspanning; sy stap omdat
sy geen ander vervoer kan bekostig nie.
Soos hulle by mekaar verby gaan, herken hulle mekaar skielik! Hoe kon sy
nie daardie ou maer lyfie herken het nie? Sy het hom dan help grootmaak.
Haar klein wit seun!
Hoe kon hy daai ou lyf, daai stappie misgekyk het? Hy skree skielik
verleë, blosend, "Hallo Traai-vienaaa!"
En sy antwoord kliphard en laggend, "Oeeeee ... Hêllo, Kleinbaaaas!"
Hulle stop nie om te praat nie.
Jy kan dié publikasie kan
nou bestel.
© 2010 lourensb.co.za.
Alle regte voorbehou.
|